Die invloed van sekularisasie op die Nederduitse Gereformeerde Kerk : ’n Kerkhistories-sosiologiese perspektief
Year: 2014
Type: dissertation
Abstract: Sekularisasie het as samelewingsverskynsel ’n onafskeidbare deel van die hedendaagse \nlewensfilosofie geword. Kenmerkend hiervan is dat religieuse diskoerse en –instellings se \ninvloed binne die moderne samelewing merkbaar verminder het. In Suid-Afrika, soos elders, \nhou die liberale demokrasie die openbare terrein leeg van godsdiens deurdat \nsamelewingsinstellings van religieuse instellings se invloed geskei word. So word die \nreikwydte van geïnstitusionaliseerde godsdiens in Suid-Afrika ingeperk. Hierdie strukturele \nsekularisasie verander ook die NG Kerk se plek binne die sosiale opset van Suid-Afrika. \nSamelopend met strukturele sekularisasie vind die sekularisering van die sosiale kultuur ook \nplaas. Die omvang hiervan hang af van die sosiale betekenissisteme wat die persepsies van \nmense beïnvloed. Westerse Individualisme wat in die populêre humanistiese mensbeskouing \ngewortel is, bied as betekenissisteem die ideale teelaarde vir sekularisasie. Hierdie \nbetekenissisteem se prioriteite van persoonlike vryheid, privaatheid, selfstandigheid, vryheid \nvan keuse en die strewe na persoonlike welvaart is ook merkbaar in die NG Kerk-lidmate se \nlewe. Dit is in die verwesenliking van hierdie prioriteite dat die moderne mens menslike \nsekuriteit vind wat die ‘noodsaaklikheid’ van godsdiens in gedrang bring. Die siening dat die \nmoderne mens vry is van kerklike dogmas as reël vir lewe en denke word deur hierdie \nbetekenissisteem aangehelp. Sodoende verval religie in die samelewing en word die deur vir \nsosiale pluralisme waarin diverse kulturele- en lewensbeskouings erken en gelykgestel word, \ngeopen. Dit veroorsaak dat die NG Kerk se invloed ten opsigte van die vestiging van \ngodsdienstige waardes in die huidige pluralistiese samelewing van Suid-Afrika verminder en \ndaarom het die kerk se godsdienstige beginsels min effek op openbare opinies. Daar is ook ’n \ntoenemende ongeërgdheid teenoor die offisiële kerk omdat die moderne mens skynbaar al \nminder daarin ’n bron van persoonlike identiteit vind. So lei sekularisasie tot ’n \ngeloofwaardigheidskrisis omtrent bekende religieuse betekenissisteme. \nSekularisasie laat egter nie religie as verskynsel geheel en al verdwyn nie, maar omvorm wel \ndie bekende en tradisionele vorme van godsdienstigheid. As gevolg van sekularisasie word \ngodsdiens toenemend verskuif na die private sfere van die samelewing, soos die gesin of die \nmoderne individu as sulks. Die betekenis van godsdiens word beperk tot die private sfeer en \npersoonlike psige. Die sin van godsdiens in die private ruimte hang af van die individu se \nsoeke na vervulling en persoonlike sekuriteit. Godsdiens in hierdie sfere word ook al hoe \nminder geaffekteer deur die disintegrasie van die verhouding tussen religieuse instellings en \nander sosiale instellings. Hoewel die offisiële NG Kerk steeds van belang geag word, staan lidmate se persoonlike \nreligie egter al meer los van die kollektiewe geloofspraktyk. Die fokus op die partikuliere \neerder as die kommunale verhoog die voorkoms van godsdienstige pluralisme wat ook die NG \nKerk as godsdienstige instelling omvorm. Dit lei daartoe dat die verbreiding van ’n veelvoud \nvan geloofsoortuigings en –praktyke ook in die NG Kerk merkbaar word. Die NG Kerk se \ngereformeerde identiteit kom as gevolg van hierdie omvorming onder druk. Die \nsekulariserende krag van godsdienstige privatisering en gevolglike individualisering omvorm \ndie bekende religieuse konstrukte en praktyke van die NG Kerk.
Author: Pieter Krüger
Institution: University of Pretoria
Language: Afrikaans
Subfield: Sociology and Political Science
Field: Social Sciences
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1418338185
