Work

Integrasie van musiek en stories as 'n effektiewe benadering tot die ontwikkeling van fonologiese bewuswording vir Afrikaanssprekende graad 1-leerders

Year: 2015
Type: article
Abstract: Volgens internasionale en nasionale statistiek word leesgeletterdheidsvaardighede wêreldwyd as ’n probleem beskou. In Suid-Afrika neem dit kritieke afmetings aan waar leerders in die grondslagfase ernstige probleme ten opsigte van lees toon. ’n Studie wat in 2002 deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (2006:1) onderneem is ten opsigte van geletterdheid en syfervaardigheid het getoon dat graad 3-leerders twee tot drie jaar swakker as hulle chronologiese leesouderdom vaar. In 2011 toon die TIMMS- en PIRLS-verslag (Howie, Van Staden, Tshele, Dowse en Zimmerman 2012) dat Suid-Afrika se graad 4- en 5-leerders die 330ste plek op die PIRLS-skaal behaal het en dat dit laer as die internasionale maatstaf van die PIRLS is. Die lae vlakke van leesvaardighede het dus dringend aandag nodig. \n \nDie navorsers vir hierdie studie beskou leesgeletterdheid as ’n kritieke aspek van skoolsukses. Hulle het dit daarom ten doel gestel om ’n paslike fonologiese musiekprogram saam te stel om leesvaardigheid aan te pak. ’n Verdere doel was om die ingrypingsprogram in ’n graad 1-klas te implementeer en op wetenskaplike wyse die uitwerking daarvan op die leerders se fonologiese bewustheid waar te neem en te monitor. Die doel van hierdie artikel is om te rapporteer oor empiriese navorsing wat gedoen is tydens die implementering van die ingrypingsprogram. \n \nDie program is ’n Afrikaanse fonologiese ingrypingsprogram met stories, liedjies en ander musiekaktiwiteite. Die program is ontwerp volgens riglyne wat in die literatuur gevind is oor fonologiese bewuswording van jong leerders, die rol wat musiek hierin kan speel, en persoonlike ondervinding as grondslagfase-onderwysers. \n \n’n Kwalitatiewe, interpretivistiese benadering en ingrypingsnavorsing tydens ’n gevallestudie is gebruik om die integrasie van musiek en stories te verken, te beskryf en te verklaar. Data is ingesamel deur visuele bewysstukke, dokumente, waarneming, onderhoude en die hou van ’n navorsingsjoernaal. Die data-ontleding het plaasgevind deur kodering en identifisering van temas. In hierdie navorsing is daar hoofsaaklik gebruik gemaak van Howard Gardner se multi-intelligensies met die klem op die musikale en linguistiese intelligensies. Die integrasie met die kunste en geletterdheid van Russell-Bowie het ook gedien as teoretiese motivering vir die ontwerp van die program en die navorsing. \n \nNadat die program toegepas is, kon sekere bevindinge saamgestel word. Die finale bevindinge van die navorsing het getoon dat musiek wel ’n positiewe rol speel in die aanleer van fonologiese vaardighede as leesgeletterdheidsvaardigheid by Afrikaanssprekende leerders in graad 1. Die waarde van die program lê daarin dat onderwysers met of sonder musiekkennis of -vaardighede musiek kan gebruik om fonologiese bewuswording te stimuleer. Die meer gespesialiseerde musiekonderrig kan dan gebruik word wanneer leerders in meer gevorderde musiekvaardighede en -konsepte onderrig word.
Language: Afrikaans
Field: Psychology
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1420852711
FWCI: 0.853
Cites: 28
Cited by: 2
Related to: 10