Self-evaluasie en die vorming van selfdoeltreffendheidspersepsies
Year: 2009
Type: dissertation
Abstract: Optimistiese self-evaluasies oor die vermoë om take uit te voer is belangrik vir sukses in verskeie aspekte van menswees. Wanneer mense sulke self-evaluasies doen en selfdoeltreffendheids-persepsies vorm maak hulle van inligting uit verskeie bronne gebruik. Volgens teorieë wat spesifiek verband hou met self-evaluasie is mense tydens die vorming van sulke persepsies omtrent die self veral afhanklik van inligting bekom deur sosiale vergelyking. Hierteenoor beklemtoon teorieë wat meer met selfdoeltreffendheid verband hou, die belangrikheid van self-verwysende inligting soos gevorm tydens prestasie-ervarings. Die doel met hierdie navorsing is om die ordening van die bronne van inligting, wat tydens die vorming van selfdoeltreffendheids-persepsies gebruik word, te ondersoek. Die resultate sal bydra om belangrike vrae te beantwoord oor die voorbereiding van mense vir die uitvoering van uitdagende take. \n \nIn 'n eksperiment (N=1 723) wat op 'n Solomon-vier-groep-ontwerp geskoei is, is drie vorme van inligting wat persepsies kan beïnvloed aan drie eksperimentele groepe verskaf terwyl daar vyf kontrolegroepe was. Die effek van die ingrepe is met 'n vraelys gemeet. Die resultate toon dat selfdoeltreffendheidspersepsies meer deur selfverwysende inligting as deur sosiale vergelykings-inligting beïnvloed word. Dit is ook bevind dat die verskaffing van addisionele inligting nie 'n kumulatiewe effek tydens die vorming van selfdoeltreffendheidspersepsies het nie. Die implikasies van die resultate ten opsigte van die praktyk en teoretiese beskouinge is in die laaste instansie bespreek.
Author: Renier Steyn
Institution: University of South Africa
Language: Dutch
Subfield: Developmental and Educational Psychology
Field: Psychology
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1497281876
