Year: 2013
Type: article
Abstract: Die selfportret beleef tans 'n oplewing aanlyn en word deur sommiges selfs as die volkskuns van die digitale era bestempel. Boonop maak die algemene toegang tot web- en selfoonkameras dit moontlik vir iedereen om hulle eie selfportret (of dan profile pic) aanlyn te kan skep en in stand te kan hou. Hierdie tendens kan beskryf word as 'n demokratisering van selfportrette, 'n genre wat eens slegs vir die aristokrasie en kunstenaars beskore was. Indien die kontemporêre aanlyn selfuitbeeldings met die tradisionele selfportret-genre vergelyk word, kan daar aangedui word dat daar bepaalde verskille is. In hierdie ontleding sal die verskille tussen die tradisionele selfportret soos onder andere vergestalt in die Duitse Renaissance-kunstenaar Albrecht Dürer se werk, in gesprek gebring word met kontemporêre selfuitbeeldings aanlyn, maar in die besonder op sosialemedia-netwerke soos Facebook. In die vergelyking sal daar voorgestel word dat die vroeë manifestasies van die selfportretkuns sekere ooreenkomste toon met wat Paul Virilio identifiseer as 'n "estetika van verskyning" in kontras met die wyse waarop die self in sosiale media vergestalt in wat bestempel kan word as 'n "estetika van verdwyning". Kortweg verwys estetika van verdwyning na die wyse waarop beelde intyds op skerms afwisselend verskyn en verdwyn ten einde die self in 'n "alom-tele-teenwoordigheid", of dan alomteleteenwoordigheid, te situeer.
Author: Amanda du Preez
Language: Afrikaans
Subfield: Visual Arts and Performing Arts
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1534265122
