A mathematical model for the control of Eldana saccharina Walker using the sterile insect technique
Year: 2013
Type: dissertation
Abstract: Twee wiskundige modelle word in hierdie proefskrif vir die populasiegroei van 'n Eldana saccharina Walker infestasie van suikerriet onder die invloed van gedeeltelik steriele, vrygelate insekte daargestel. Die eerste model beskryf die populasiegroei van en -interaksie tussen normale en steriele E. saccharina motte in 'n dinamiese, maar ruimtelik-homogene omgewing. Die model is 'n stelsel deterministiese verskilvergelykings onderhewig aan streng positiewe aanvangswaardes. Die primêre doelstelling met hierdie model is om geskikte parameters te bepaal in terme waarvan die bogenoemde groei en interaksie gekwantifiseer kan word, en waarvolgens E. saccharina infestasievlakke en die gepaardgaande suikerrietskade gemeet kan word. Die tweede model beskryf hierdie groei en interaksie onder die invloed van gedeeltelik steriele insekte wat in 'n dinamiese en ruimtelik-heterogene omgewing vrygelaat word. Die model is 'n gediskretiseerde stelsel reaksie-diffusievergelykings met veranderlike diffusiekoëffisiënte onderhewig aan streng positiewe aanvangswaardes en zero-vloei Neumann-randwaardes op 'n begrensde ruimtelike gebied. Die primêre doelstellings in hierdie geval is om 'n model tot stand te bring wat in 'n area-wye, geïntegreerde pesbestrydingsprogram vir E. saccharina gebruik kan word om die doeltreffendheid van verskillende steriele motvrylatingstrategieë te bepaal sonder om daadwerklik veldeksperimente uit te voer, en om riglyne daar te stel waarvolgens vrylatingsverhoudings, -frekwensies en -verspreidings bepaal kan word wat na verwagting na 'n onderdrukking van die pes sal lei. Bykomend tot die wiskundige modelle in hierdie proefskrif, word twee praktiese toepassings van die modelle ook beskryf. In die eerste toepassing word 'n gebruikersvriendelike simulasie hulpmiddel ontwikkel om E. saccharina infestasie onder die invloed van steriele insekvrylatings in verskillende ruimtelike gebiede te simuleer. Hierdie toepassing fasiliteer 'n dieper begrip van wat ter sprake is in die toepassing van wiskundige modelle, soos die twee modelle in hierdie tesis, tot werklike scenario's.In die tweede toepassing word 'n optimale diversifisering van suikerriet habitats as 'n opsie vir die vermindering van die gemiddelde E. saccharina infestasie vlakke beskou, en gevolglik word die verbetering van die koste-doeltreffendheid van steriele insekvrylatings afgeskat. Alhoewel verskeie spesiale gevalle van die bogenoemde twee klasse van modelle reeds in die verlede gebruik is om die doeltreffendheid van die steriele-insektegniek te modelleer, beskryf weinig van hierdie modelle die tegniek vir Lepidopteriese spesies met meer as een lewensfase en waar F1-steriliteit ter sprake is. Verder beskryf geen van hierdie modelle die tegniek waar algeheel steriele wyfies en gedeeltelik steriele mannetjies vrygelaat word nie. Die modelle in hierdie tesis is ook die eerste waar die tegniek spesifiek op E.saccharina toegepas word, en waar die ekonomiese lewensvatbaarheid van die tegniek vir hierdie spesie oorweeg word. Verder bestaan daar min voorbeelde van soortgelyke modelle wat verder gaan as 'n teoretiese beskrywing en wiskundige ontleding na praktiese, werklike toepassings, soos in hierdie proefskrif geïllustreer.
Author: L. Potgieter
Institution: Stellenbosch University
Language: English
Subfield: Applied Mathematics
Field: Mathematics
Domain: Physical Sciences
SDG: Zero hunger
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1633597
