Work

Vestiging van versekeringseise teen omgewingskade wat deur hidrobreking aangerig word

Year: 2014
Type: article
Abstract: Breking in die Karoo kan onmeetbare omgewingskade aanrig. Waar skade gely kan word, volg versekering. Beide saakversekering en aanspreeklikheidsversekering kan ter sprake kom. Versekering teen omgewingskade wat deur besoedeling aangerig word, bied unieke uitdagings. Jare kan verloop tussen die skadeveroorsakende gebeurtenis of handeling, die manifestasie van skade, en die tydstip wanneer die versekerde ʼn versekeringseis teen sy versekeraar kan instel. Versekeringsvestigingsfeite volg die stadiums van besoedeling en die gevolge daarvan. Versekeringseise kan op ʼn gebeurtenisbasis vestig wanneer die skadeveroorsakende handeling of gebeurtenis plaasvind. Waar die skade ver in die toekoms manifesteer, sal die versekeraar wat op ʼn gebeurtenisbasis verseker het, steeds dekking moet verleen. By die ingetredeverlies-basis sal die versekeraar wat ten tye van ontdekking of manifestasie van die skade dekking verleen het, aanspreeklik wees. Waar dekking op ʼn eisebasis verleen word, sal dekking geaktiveer word wanneer die versekerde sy skade geassesseer het en in staat is om ʼn versekeringseis in te dien, ongeag wanneer die skade veroorsaak is of manifesteer. In hierdie geval erf die versekeraar historiese eise wat tot retroaktiwiteit lei. Waar ʼn versekerde sy dekking verskuif van ʼn eisebasis na ʼn gebeurtenisbasis, en skade manifesteer eers in die toekoms, kan daar geen dekking wees nie. Probleme ontstaan met die toedeling van skade waar meerdere versekeraars op verskillende basisse dekking teen dieselfde risiko verleen, of by aanspreeklikheidsversekering ten opsigte van kousaliteit en bydraende nalatigheid waar meerdere daders vir die skade aanspreeklik is. Aan hierdie probleme is die afgelope twee dekades in die VSA en die EU-lande indringend aandag gegee. Die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse versekerings- en omgewingsreg het egter nie hiermee tred gehou nie. Hierdie artikel bespreek die aard van die versekeringsvestigingsfeite en die problematiek van die praktiese toepassing daarvan, en ondersoek moontlike oplossings vir die komplikasies wat deur meervoudige of kumulatiewe kousaliteit en meervoudige dekking veroorsaak word.
Language: Afrikaans
Open Access status: green
OpenAlex ID: W18504096
FWCI:
Cites: 23
Cited by:
Related to: 10