Veerkragtigheidskenmerke van gesinne waarvan ʼn kind geboelie word
Year: 2011
Type: dissertation
Abstract: AFRIKAANSE OPSOMMING: Afknouery is ’n algemene verskynsel onder laerskoolkinders. Alhoewel afknouery dikwels as ’n \nnormale deel van die grootwordproses beskou word, dui verskeie ondersoeke op die negatiewe \nsosiale, sielkundige en fisiese gevolge wat daarmee gepaard gaan. Wanneer ’n kind geboelie word, \nraak dit noodwendig die hele gesin. Elke gesin het egter unieke eienskappe of maniere om krisisse \n(soos afknouery) te hanteer en daarby aan te pas. Gesinsveerkragtigheid verwys na die gesin se \nvermoë om weerstand te bied teen, en te herstel na, ontwrigtende lewensuitdagings. Die doel van \nhierdie ondersoek was om vas te stel watter gesinskenmerke geassosieer kan word met goeie \naanpassing van gesinne waarvan ’n kind geboelie word. \nDie studiepopulasie was gesinne met laerskoolkinders wat vir ses maande of langer geboelie is in \ndie voorafgaande drie jaar, en wat in die Suid-Kaap woon. Ma’s het as verteenwoordigers van hul \ngesinne opgetree en namens die gesinne aan die ondersoek deelgeneem. Agt-en-veertig \nverteenwoordigers van gesinne het elk sewe selfvoltooiingsvraelyste asook ’n biografiese vraelys \nmet twee oop einde-vrae voltooi. \nDie resultate van die kwalitatiewe data het getoon dat gesinne veral deur die afknouery geraak is \ndeurdat die kinders wat geboelie is, negatiewe emosies soos hartseer ervaar het. Die meeste gesinne \nhet die afknouery hanteer deur met ’n onderwyser, skoolhoof of die beheerliggaam te gaan praat, of \ndeur raad te gee aan die kind wat geboelie is. Die resultate van die kwantitatiewe data, wat met \nbehulp van korrelasies en regressie-ontledings verkry is, het die volgende \ngesinsveerkragtigheidskenmerke geïdentifiseer: die kwaliteit van gesinskommunikasie, positiewe \nkommunikasiepatrone wat omgee en ondersteuning oordra, standvastigheid en duursaamheid van \ndie gesinseenheid, die gesin se gevoel van interne sterk punte, betroubaarheid en die vermoë om \nsaam te werk, die gesin se pogings om vernuwend en aktief te wees, om nuwe dinge te probeer en \nom te leer, die mate waartoe die gesin roetines gebruik en handhaaf, die gesin se klem op die \nvasstelling van voorspelbare kommunikasie tussen ouer en kind, die gesin se klem op die \nvasstelling van voorspelbare roetines om ’n kind se gevoel van selfbestuur en orde te bevorder, \nasook die gesin se klem op saamwees. \nDie bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur oor gesinne waarvan ’n kind \ngeboelie word. Dit kan nuttig aangewend word in die beplanning en ontwikkeling van intervensies \nom hierdie gesinne te versterk en meer veerkragtig te maak. Die geïdentifiseerde gesinskenmerke \nlaat ook die moontlikheid oop vir verdere navorsing om hierdie kenmerke in meer besonderhede te \nondersoek en te beskryf.
Author: Estelle Roodt
Institution: Stellenbosch University
Language: Afrikaans
Topic: Resilience and Mental Health
Subfield: Clinical Psychology
Field: Psychology
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W2106511982
