Liquid water flow and discolouration of wood during kiln drying
Year: 2006
Type: dissertation
Abstract: Die verkleuring van Suid-Afrikaanse naaldhout gedurende kamerdroging kan die waarde van meubelgraad gesaagde hout verlaag.Termiese verkleuring van hout, soos wat plaasvind tydens behandelings by verhoogde temperature, lei tot 'n homogeen bruiner kleur as die gewone kleur van hout.Hierdie soort verkleuring word toegeskryf aan reaksies van die makro-molekulêre komponente van hout en kan plaasvind in beide loof-en naaldhoutsoorte.Geel-en bruinverkleuring kan die kleur in die buitenste paar millimeter van 'n plank beduidend verander, en word toegeskryf aan die neerslagreaksie van wateroplosbare suikers en stikstofhoudende verbindings aanwesig in die houtsap by die houtoppervlak as gevolg van vrye water of kapillêre vogbeweging gedurende droging.'n Bespreking van die meganisme van geel-en bruinverkleuring sou onvolledig wees sonder 'n goeie begrip van vrye water vloei gedurende droging bo veselversadigingspunt.Hierdie proefskrif plaas die twee begrippe van vrye water vloei en verkleuring bymekaar, en bestaan uit vier hoofstukke:• 'n inleiding wat die doel van die ondersoek motiveer (Hoofstuk 1);• 'n literatuurstudie van die faktore wat verkleuring en vrye water vloei tydens droging sou kon beïnvloed (Hoofstuk 2);• oorsponklike manuskripte wat die verkleuring van Suid-Afrikaanse naaldhout en vrye water vloei in loof-en naaldhout beskryf (Hoofstuk 3); en • 'n finale gevolgtrekking wat die bevindings van die onderskeie ondersoeke saamvat en in verband plaas (Hoofstuk 4).Die resultate toon dat die omvang van geel-en bruinverkleuring hoofsaaklik beïnvloed word deur geografiese oorsprong (en/of klimaat), boomspesie, skaafdiepte van gedroogde hout, en drogingskeduleparameters soos temperatuur en tyd.Die kenmerkende verkleuringspatroon van geel-en bruinverkleuring het gewys dat hierdie soort verkleuring verwant is aan die natlynverskynsel wat aangetref word tydens die kapillêre vloeifase van droging van nat hout.In kontras hiermee, het termiese verkleuring homogeen regdeur die volume van die hout voorgekom, en is daarom nie verwant aan vrye water vloei nie, maar aan chemiese reaksies van die makro-molekules in hout.Resultate van die vrye water vloei ondersoeke ondersteun die infiltrasie perkolasie teorie van droging, naamlik dat, tydens droging van 'n vloeistofgevulde kapillêre netwerk, die grootste meniskus sal intrek tot dit nie meer die grootste meniskus is nie.Fluktuasies in die tempo van vogverlies vanuit die kerne van houtstukke bo veselversadigingspunt is ook gevind.Die patroon van fluktuasie het aansienlik verskil tussen Betula verrucosa en Pinus radiata.In beide gevalle het die begin van die laaste fase in tempo van vogverlies van die kern tipies saamgeval met 'n verkleining van die dwarssnitoppervlak van die drogende houtstuk.Hierdie gedrag word verklaar deur die hipotese dat onderskeibare kapillêre grootte-klasse leeggemaak word van vrye water in volgorde van groot na klein.Soos kleiner kapillêre leeggemaak word, word die kapillêre kragte groter, tot die punt waar die kragte groot genoeg is om permanente of tydelike vervorming van die oorblywende, watergevulde kapillêre te veroorsaak.Klassifikasie-en regressieboomanalise was 'n nuttige statistiese tegniek om 'n groot kleurdatastel met baie veranderlikes te analiseer.Die belangrikheid van temperatuur en skaafdiepte om geel-en bruinverkleuring te beheer word goed uitgewys deur dié tegniek, wat kan help om die beheer vir kleurkwaliteit tydens industriële prosessering van hout te vereenvoudig.
Author: Gerhard Scheepers
Institution: Stellenbosch University
Language: English
Subfield: Building and Construction
Field: Engineering
Domain: Physical Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W2167837712
