Year: 2015
Type: dissertation
Abstract: Wanneer ‘n premature geboorte voorkom, is daar ‘n onderbreking in die biologiese ontwikkeling van ‘n baba en in die swangerskap van die moeder. Daarby is ‘n premature geboorte ‘n stresvolle ondervinding vir beide ouers en baba. ‘n Jong kind wat prematuur gebore word, het unieke invloede op ouers en op die gesin se funksionering en mag ook unieke uitdagings bied ten opsigte van die ouers se ervaring van ouerskap. Ouerskap het ‘n belangrike impak op die ontwikkeling van ‘n kind. Ouerskap ten opsigte van die jong kind wat prematuur gebore is, is ‘n unieke proses wat anders is as dié van ouerskap ten opsigte van ‘n kind wat voltermyn gebore is. \nDie doel van die navorsing was om die ouers se ervaring van ouerskap van die jong kind, wat prematuur gebore is, te eksploreer en te beskryf. ‘n Kwalitatiewe navorsingsbenadering is gevolg met ‘n kollektiewe gevallestudie as navorsingsontwerp. Die kwalitatiewe benadering het die navorser toegelaat om dieper te delf ten opsigte van die ervaringe van die ouers (Fouché & Delport, 2011:65). Semi-gestruktureerde, een-tot-een onderhoude is in hierdie studie as data-insamelingsmetode gebruik. ʼn Onderhoudskedule, met vooraf-geformuleerde vrae, is saamgestel om onderhoude te struktureer. Die studiepopulasie het bestaan uit tien ouers (nege vroulik en een manlik) met jong kinders tussen die ouderdom van een en twee jaar, wat deel is van ‘n ondersteuningsgroep vir ouers met prematuur- gebore babas en kinders in Pretoria, Gauteng, wat aan spesifieke kriteria voldoen het. Die bevindinge van die navorsing het bevestig dat prematuriteit wel ‘n unieke invloed op ouers se ervaring van ouerskap uitoefen. Die aard van die invloed verskil van gesin tot gesin en ook binne elke lewensfase van die kind. Die bevindinge beklemtoon die ondersteuning wat die ouers benodig ten op sigte van hul ouerskap van die jong kind wat prematuur gebore is. Ouerskapstyle is uitgewys as ‘n belangrike aspek, aangesien dit ‘n direkte invloed op die kind se ontwikkeling uitoefen. Ouerskapstyle het ook ‘n invloed op die wyse waarop ouers ouerskap ervaar en hanteer. \nGebaseer op die bevindinge is daar aanbeveel dat professionele persone soos maatskaplike werkers, dienste aan die ouers moet lewer om hulle deur die premature geboorte en die aanvanklike proses van ouerskap te begelei. Daar is ook aanbeveel dat gesondheidsorgpersoneel ouers professioneel moet bystaan tydens die premature geboorte, die hospitalisasietydperk en met hul versorgingsrol as ouers. Sodoende kan lede van die multi-dissiplinêre span bewus word van die belewenisse van hierdie ouers en hulle verwys na maatskaplike werkers vir professionele dienslewering ten opsigte van hul sosio-emosionele funksionering.
Author: Carla Labuschagne
Institution: University of Pretoria
Language: Dutch
Field: Medicine
Domain: Health Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W2201939361
