Lewenskontekstuele hermeneutiek-met verwysing na Sewendedag-Adventiste
Year: 2015
Type: dissertation
Abstract: In die tesis word die modernistiese en laat/postmodernistiese reduksionistiese benaderings in die Adventiste wêreld nie bloot afgewys nie, nie net omdat dit deel van ons ervaring is nie maar ook omdat die reduksies wat in die moderne en laat/postmoderne tyd ontstaan het in ʼn gemodifieërde sin die boustene is van ʼn hermeneutiese benadering wat poog om holisties en in multiverse sin oorvleuelend te werk met die antieke, moderne en laat/post moderne benaderinge. \n \nIn ʼn hermeneutiek wat holisties oorvleuelend en multivers integrerend aan die gang is, vorm die vierledige opset van die handelinge en beweginge van God, die menslike bewustelike self, medemens(e) as die ander mens en die natuurlike kosmiese wêreld ʼn misterie van vierledig aktiewe teenwoordighede wat nie-vermengd saambestaan maar tog ontsettend naby aan mekaar is as die voortgaande ervaringskaart van elke konteks en situasie. \n \nJuis die uitmekaar ruk van die vierledige aktiewe teenwoordighede inonservaringswêrelde vorm die agtergrond vir moderne teologisme met God alleen speler van die spel, psigologisme met die bewustelike menslike self as die kaptein van sy siel en die meester van sy lot, humanisme waarin die mensheid as kollektiewe menswees die enigste roerder van die menslike brousel in die geskiedenis is en naturalisme waarin die natuurlik kosmiese omgewing die naturaliserende ordeningsagent van die kosmiese chaos is. \n \nWat radikaal deur ʼn holisties oorvleuelende en multiverse integrerende aanpak sny, is dat die vierledige teenwoordighede gedra word asook ingebou is in wat in die Bybels-historiese tydslyn vorendag kom as die vier prominente dade van God se voortgaande skepping, versoening in Jesus Christus, alomvattende vernuwing deur die Gees en voleindende volmaking tot in die aanbreek van die nuwe hemel en die nuwe aarde. \n \nBinne die omraming van ʼn hermeneutiek wat holisties oorvleuelend en multiversintegrerend werk, word algemene moderne en postmoderne benaderinge oor tekse, teorieë, menslike handelinge en die \nnatuurlike kosmiese gebeurtenisse beskryf. Terwyl die moderniteit – en ook die postmoderniteit – \nuitgaan van die hoofsaaklik opponerende verskille tussen sinmakende beskouinge word hier gepoog om \neers die oorvleuelingsareas refleksief te betrek en daarna aandag gee aan die verskille. Die drie \nbreë benaderinge wat hoofsaaklik beskryf word is die van fundamentalistiese spieëling, liberale interpretasie en die konsinlike onderhandeling van tekse, teorieë, menslike handelinge en natuurlik kosmiese gebeure.Juis teen hierdie agtergrond word diverse SDA omgangspatrone met die Bybel, \nervaringe in die kerklike arena en alledaagse ervaringe in ʼn draaikolk van multivers oorvleuelende en differensiërende refleksiwiteit beskryf.
Author: Ruan Horn
Institution: University of South Africa
Language: Afrikaans
Subfield: Religious studies
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W2770166672
