Die problematiek en potensiaal van die huishoudelike ruimte in Klaaglied vir Koos (1984) deur Lettie Viljoen
Year: 2014
Type: article
Abstract: OPSOMMING: Klaaglied vir Koos (1984) is Ingrid Winterbach se eerste boek, wat verskyn het onder die skrywersnaam Lettie Viljoen. Die novelle handel oor ’n naamlose vroulike verteller wie se man haar en hulle kind verlaat het om in die grensoorlog teen die apartheidsregering te veg. In die teks word die verteller se denke oor hoe sy moet optree in reaksie op haar man se vertrek, uiteengesit. Sy oorweeg dit om ook by die anti-apartheidstryd aan te sluit. Sy doen dit egter nie, omdat sy waarde heg aan haar middelklashuis en -leefwyse en die beskerming wat dit vir haar en haar kind bied. In hierdie artikel word aangevoer dat hierdie posisie ’n feministiese een is. Die huishoudelike ruimte, wat met vroulikheid geassosieer word, word naamlik binne die patriargie gesien as van minder waarde as die “manlike” openbare ruimte. Die verteller se betoog ten gunste van die huishoudelike kan dus gesien word as ’n verheerliking van tradisioneel vroulike ruimtes en aktiwiteite. Die novelle is ook wat narratiewe struktuur betref, feministies en kan beskou word as ’n tipe l’écriture féminine. Daar word in die artikel ook aandag gegee aan die beperkings van die verteller se posisie in die huis. Die novelle is nie net waardevol omdat dit beskou kan word as ’n eksperimentele feministiese teks waarin die huishoudelike teruggeëis word van die patriargie nie, maar ook omdat dit die beperkings van so ’n toe-eiening binne ’n patriargale en ekonomies onregverdige samelewing verken.
Author: Bibi Burger
Institution: Stellenbosch University
Language: Afrikaans
Subfield: Literature and Literary Theory
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
SDG: Gender equality
Open Access status: green
OpenAlex ID: W1760853164
