Plato on justice as virtue - a safeguard against a static metaphysics of being and a postmodern meaning-relativism?
Year: 2000
Type: article
Abstract: Die kontemporêre wetenskaplike klimaat vertoon die beeld van toenemende disintegrasie - 'n fragmentasie wat sekerlik nie los te maak is van die modernisme/postmodernisme debat nie. Alhoewel Plato se soeke na die vermeende (bo-sinnelike) statiese wese van dinge gevoed is deur 'n spekulatiewe metafisika wat langs antropologiese weg selfs 'n fundering wou bied vir sy siening van die ideale staat, berus sy wysgerige refleksie op belangrike insigte wat dwarsdeur die geskiedenis van die filosofie 'n rigtinggewende rol sou bly speel. Veral sy kennisteoretiese insig dat konstansie die basis vorm van veranderlikheid moet vermeld word; indien die "eie wese" van iets inherent veranderlik (d.w.s. nié konstant nie) was, sou dit onkenbaar wees. In hierdie bydrae word ingegaan op die onderliggende Eleatiese agtergrond van Plato se ideëleer alvorens daar oorgegaan word tot 'n herwaardering van sy siening van geregtigheid as een van Plato se deugde. In hierdie konteks word enersyds aangetoon dat Plato in laaste instansie bloot 'n konstitutiewe regsopvatting ontwikkel (regsharmoniëring en die wering van juridiese eksesse) en andersyds geargumenteer dat die kern-insig in die aard van konstansie as basis van verandering 'n moontlikheid open om die ankerlose relativisme van 'n gefragmenteerde postmodernistiese aanpak te bowe te kom.
Author: D.F.M. Strauss
Language: English
Subfield: Philosophy
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W29211714
