Die uitbeelding van semitiese handelaars en oogverf in die Beni Hasan muurskildery
Year: 2020
Type: dissertation
Abstract: Hierdie studie fokus op ‘n interpretasie van die Beni Hasanmuurskildery en meegaande inskripsie wat in Graf BH3 in Egipte ontdek is. Die skildery dateer uit ongeveer 1892 v.C. en kom voor in die graftombe van die provinsiale goewerneur van die Oryxprovinsie – Khnum-hotep II. Met die muurskildery en inskripsie deur die koninklike hofskrywer Neferhotep as vertrekpunt en teoretiese raamwerk, word daar ‘n kwalitatiewe ondersoek gedoen na die herkoms, identiteit en rol van die handelaars en ander items, veral oogverf, wat in die skildery uitgebeeld word. Benewens die interpretasie van die Beni Hasanmuurskildery, steun die studie ook op beskikbare inligting in eietydse teologiese- en argeologiese publikasies. Deur ‘n multi-dissiplinêre benadering te volg, word daar gepoog om meer inligting te bekom oor die geografiese ligging en argitektuur van Graf BH3, die belangrikheid van graf-outobiografie, die identiteit van die handelaars en die doel van hulle besoek. Dit blyk dat die muurskildery ‘n belangrike gebeurtenis in Egipte en die Semitiese wêreld van die pre-monargale tydperk uitbeeld, en meer spesifiek die tyd en konteks waarin verhale van die sogenaamde ‘aartsvaders’, soos hulle in die Hebreeuse Bybel beskryf word, afgespeel het. Aangesien daar ‘n gebrek aan argeologiese en geskrewe (Bybelse en buite-Bybelse) bronne oor die proto-Israelitiese samelewing bestaan, hoop die studie om ‘n bydrae te lewer tot navorsing oor die tydperk, en veral die verhouding tussen die Semiete en Egiptenare. Spesiale aandag word gegee aan die uiterlike voorkoms van die handelaars en goewerneur, en aan die aard en funksie van elke gebruiksartikel wat in die skildery uitgebeeld word, soos die kleredrag, donkies, wapens en musiek-instrumente. Omdat daar in die inskripsie spesifiek melding gemaak word van oogverf, word die belangrikheid van oogverf ten opsigte van magies-religieuse, kultiese, mediese, begrafnis-, ekonomiese (handels-) en kosmetiese gebruike, asook die vervaardiging en samestelling daarvan, breedvoerig ondersoek
Author: Hester Sophia Jacoba Zeelie
Institution: University of South Africa
Language: Afrikaans
Subfield: Archeology (arts and humanities)
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Keyword: Hebrew Bible
Open Access status: green
OpenAlex ID: W3134490933
