Year: 2020
Type: dissertation
Abstract: AFRIKAANSE OPSOMMING : Onderwysers word beskou as die belangrikste rolspelers om inklusiewe onderwys te implementeer. Samewerking word as dié sleutelvaardigheid beskou vir onderwysers om saam met kollegas en beroepslui komplekse probleme op te los sodat in leerders se diverse leerbehoeftes voorsien kan word. Verskillende tipes samewerking kom algemeen voor in skole wat verband hou met die doel of taakfokus van aktiwiteite. Relasionele agentskap blyk ’n waardevolle konsep te wees om onderwysers se gebruik van samewerking te ontrafel. Met behulp van hierdie kundigheid kan onderwysers gesamentlik probleme oplos deur van mekaar se kennis, vaardighede en sinmaak van probleme gebruik te maak. Hierdie studie het dit dus ten doel gehad om uit te vind hoe onderwysers relasionele agentskap ontwikkel tydens samewerking met ander in ʼn voldiensskool. ’n Kwalitatiewe gevallestudie-navorsingsontwerp binne ’n interpretivisties-konstruktivistiese paradigma is gebruik. Die voldiensskool is deur middel van doelgerigte steekproefneming geïdentifiseer en vier onderwysers het vrywillig aan die studie deelgeneem. Semi-gestruktureerde onderhoude het indringende kwalitatiewe beskrywings van samewerking gebied. Die dataverwerking het aan die hand van die konstruktivisties gegronde teorie geskied en deelnemers se response is deur middel van kodering in temas gegroepeer. Die kultureel-historiese aktiwiteitsteorie (Engels: “cultural-historical activity theory”, oftewel CHAT) het as ’n teoretiese raamwerk gedien om die databevindinge in die konteks van ’n voldiensskool te interpreteer. Die bevindinge van die studie dui aan dat onderwysers samewerking as hulpmiddel gebruik om hul kennis en vaardighede uit te brei. Die gebruik van dieper-vlak-samewerking en ʼn hoër graad van span-entitativiteit het die ontwikkeling van relasionele agentskap bevorder. Die studie se resultate dui ook daarop dat relasionele agentskap, relasionele kundigheid en gemeenskaplike kennis interverweef en verbonde is aan mekaar. Relasionele kundigheid en gemeenskaplike gronde is dus noodsaaklik vir die ontwikkeling van relasionele agentskap. Ander faktore wat die ontwikkeling van relasionele agentskap bevorder, is verhouding-bou en leer-ken-van-mekaar, daadwerklike optrede om teenstrydighede in die stelsel op te los (agentskap) en laastens die gebruik van self-evaluasie en refleksie om onderrigpraktyke te bevorder.
Author: Magdalena Schreuder
Language: Dutch
Subfield: Education
Field: Social Sciences
Domain: Social Sciences
SDG: Quality education
Open Access status: green
OpenAlex ID: W3135712789
