Die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste, byeengebring vanuit die mees onlangse literatuur
Year: 2022
Type: article
Abstract: Hierdie artikel bied ’n sistematiese en samehangende oorsig aan van die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste (vroeg-vyfde eeu tot die tweede helfte van die 15de eeu), byeengebring vanuit die mees onlangse (2001–2021) spesialisuitsette in die tersaaklike afdelings. Die hermeneutiese geleier in die ontwikkelingsoorsig is dat die “monnik”, as ’n diepgaande geïnstitusionaliseerde vorm van subjektiwiteit, op ’n ongeëwenaarde skaal bygedra het tot die oorhoofse ontwikkeling van die Westerse ideëgeskiedenis en die tot stand bring van die Westerse samelewingsorde. Nadat die diskursiewe konteks vir die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die vyfde tot die agste eeue aan bod gebring is, met aksent op die bydraes van Augustinus, Benediktus, Cassianus, Boethius en Cassiodorus in aanloop tot die val van Rome in 530, word ontwikkelinge in die Karolingiese Renaissance (vanaf 742) en die onmiddellike periode daarna (negende tot 11de eeue) onder die loep geneem, met fokus op die bydraes van Alcuin, Eriugena, Anselmus en Damianus. Die derde deel van die artikel fokus op ontwikkelinge in die vier Sentraal-Middeleeuse skoolordes (die Franciskane, Dominikane, Augustyne en Karmeliete) en die bydraes van die vernaamste skoolmonnike vanuit hierdie ordes tot die skolastiek van die 13de en 14de eeu. Die ontwikkeling van die monnikewese word teen hierdie agtergrond as die mees sentrale aspek van die algehele ontwikkeling van die Westerse geestesgeskiedenis sedert die val van Rome aangedui: Daar sou nie sprake kon wees van die post-Romeinse skepping, bewaring en ontwikkeling van ’n Westerse samelewingsorde as dit nie vir die dinamiese ontwikkeling en institusionele teenwoordigheid van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste was nie.
Author: Johann Beukes
Language: Afrikaans
Subfield: Classics
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Open Access status: bronze
OpenAlex ID: W4296510864
