Selfkennis, verstandigheid en inkarnasie: 'n interpretasie van Martin Versfeld se Oor gode en afgode
Year: 2010
Type: article
Abstract: In hierdie artikel word ’n interpretasie van Martin Versfeld se vroeë boek, Oor gode en afgode (1948), aangebied. Die doel van die artikel is om die belangrikste deurlopende argumente van die vyf afsonderlike opstelle van die boek te rekonstrueer en hulle onderlinge verband aan te toon. Die praktyk- en politiekfilosofiese goue draad word uitgelig en saam met die sentrale begrip van die “praktiese rede” (verstandigheid of prudentia) uiteengesit. Daar word aangetoon hoe die begrip van “inkarnasie” verstandigheid onderbou en hoe die hele kompleks deur die vorming van “selfkennis” bydra tot die oriëntasie van die mens in die wêreld. Hierdie oriëntasie staan vir die jong Versfeld in die spanning tussen die verval van die Westerse beskawing en die dringendheid om met ’n radikale etiek daarop te antwoord. Die inhoud van Oor gode en afgode word verder geïnterpreteer (1) deur dit binne die groter ontwikkeling van Versfeld se werk te plaas, (2) deur dit vanuit die (meesal) ongepubliseerde materiaal in die Versfeldargief te belig, en (3) deur enkele aspekte van die bestaande interpretasie- en resepsiegeskiedenis te kommentarieer. Ofskoon die hoofdoelstelling van die opstel die verheldering van die inhoud is, word daar afgesluit met ’n suggestie van die lyne waarlangs kritiese verderondervraging van die boek onderneem sou kon word.
Author: Ernst Wolff
Language: Afrikaans
Subfield: Philosophy
Field: Arts and Humanities
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W71992986
