Work

Lewensomstandighede van slawe in die Boland (Wes-Kaap), 1816 tot 1834: ’n herevaluering van bestaande beskouings aan die hand van die Boland-slawedatabasis

Year: 2023
Type: article
Abstract: Opsomming Tot 1970 het Afrikanerhistorici die mening gehuldig dat slawerny aan die Kaap ’n ongelukkige verskynsel was, maar dat dit plaaslik op ’n meer humanitêre wyse toegepas is. Om aan hierdie stelling geldigheid te verleen, is daar dikwels verwys na die skynbaar harde en wrede vorm van slawerny wat in die Britse Wes-Indiese Eilande geheers het. Die erge graad van wreedheid daar is toegeskryf aan die voorkoms van “afwesige” plantasie-eienaars wat in Brittanje gewoon het en die beheer op die plantasies aan opsigters oorgelaat het. Volgens die Afrikanerdenkbeelde was die slawe-eienaars aan die Kaap meer besorg oor die wel en wee van hulle slawe omdat dit tot die eienaar se voordeel sou wees as sy slawe nie weens mishandeling sou dros of sterf nie. Talle slawe sou deel van die huishouding word, en sommiges is deur hulle eienaars vrygestel. As vertrekpunt om die behandeling en lewensomstandighede van slawe in die Boland te bepaal is ’n databasis van al die slawe teenwoordig in die tydperk 1816–1834 in die groter Stellenbosch-distrik saamgestel. Hierdie databasis (die Boland-slawedatabasis) bevat inligting oor meer as 19 500 individuele slawe. Die inligting is onttrek uit die slaweregisters wat elke eienaar vanaf 1816 wetlik moes byhou en is aangevul deur die inligting van elke slaaf of slavin wat in 1834 nog geleef het en tot 1838 “ingeboekte” werkers in diens was. Die 1816–1834-lys is deur amptenare opgestel wat die slawe se waarde in finansiële terme moes evalueer met die oog op die vergoeding wat slawe-eienaars ná die algehele vrystelling van slawe in 1834 sou ontvang. Ná 1970 het daar nuwe vertolkings van slawegeskiedenis in die VSA ontstaan, omdat historici kwantitatiewe metodes begin gebruik het om sinvolle gevolgtrekkings, gegrond op massa-inligting, oor die lewensomstandighede van slawe te maak. Van hulle bevindings oor geboortes, sterftes en vrylatings word in hierdie ondersoek vergelyk met die gegewens wat in die nuwe Boland-slawedatabasis gevind word.
Language: Afrikaans
Subfield: History
Open Access status: bronze
OpenAlex ID: W4386848044
FWCI:
Cites: 20
Cited by:
Related to: 7