The influence of cause-related marketing campaign structural elements on consumer intention, attitude and perception.
Year: 2016
Type: dissertation
Abstract: Saakverwante reklame is 'n transaksiegebaseerde benadering wat gekenmerk word deur 'n aanbod van 'n firma om 'n bydrae te maak aan 'n donasiebegunstigde wanneer verbruikers 'n spesifieke saakgekoppelde produk koop.Dit is 'n tegniek wat voordele bied aan firmas, nie-winsorganisasies en verbruikers in 'n era waar firmas aanspreeklik gehou word vir hul sosiale aksies, nie-winsorganisasies gekonfronteer word met toenemende sosiale behoeftes en afnames in befondsing, en verbruikers waarde heg aan die sosiale identiteit en warm gevoel wat verkry word uit liefdadigheidsbetrokkenheid.Saakverwante reklame word gekonstrueer deur verskeie veldtogstruktuurelemente.Sulke elemente sluit in die produk wat in die veldtog verskyn, die donasie wat belowe word en die donasiebegunstigde.Navorsing dui daarop dat verbruikers oor die algemeen positief is teenoor saakverwante reklame en dat veldtogstruktuurelemente verbruikersreaksies beïnvloed, sowel onafhanklik as interaktief.Gegewe die aantal potensiële veldtogstruktuurelemente, die meervoudigheid van hul moontlike permutasies, die eenvoud van sommige vorige studies en die kontekstuele aard van saakverwante reklame, word verdere ondersoek oor die invloed van hierdie elemente op verbruikersreaksies aanbeveel.Hierdie studie is 'n reaksie op daardie oproep.Die doel van die navorsing was om Suid-Afrikaanse middel-tot hoëinkomsteverbruikers se kennis en opinies oor saakverwante reklame te verken, en om die onafhanklike en interaktiewe invloed van bepaalde veldtogstruktuurelemente op verbruikersreaksies te ondersoek.Die navorsing is uitgevoer aan die hand van kwalitatiewe fokusgroepe en 'n kwantitatiewe 2 X 2 X 2 X 2 faktoriale eksperiment.Die studie het 'n kommunikasiebenadering gevolg en daarom gefokus op die veldtogstruktuurelemente wat tipies aan verbruikers gekommunikeer word as deel van 'n saakverwante reklame-aanbod.Die veldtogstruktuurelemente wat in hierdie studie as onafhanklike veranderlikes ondersoek is, is produkbetrokkenheid (hoog; laag), donasiebegunstigde-spesifisiteit (spesifiek; vaag), donasiegrootte (hoog; laag) en donasieuitdrukkingsformaat (werklike bedrag; persentasie-van-prys).Produkbetrokkenheid en donasiebegunstigde-spesifisiteit het sover beperkte aandag ontvang in navorsing oor saakverwante reklame, terwyl vorige bevindinge oor donasiegrootte en donasie-uitdrukkingsformaat ontwykend was en daarop gedui het dat hierdie elemente se invloed dikwels in interaksie met ander elemente voorkom.
Author: D Human
Institution: Stellenbosch University
Language: English
Subfield: Marketing
Domain: Social Sciences
Open Access status: green
OpenAlex ID: W2597842708
